Antoinette (Pretorius) Badenhorst (10A) Reünie in perspektief

Tieners is of skaam of voor op die wa of loop rond met ‘n bravade; regtig of ’n front.

Tieners is ook die slimste goeters wat op moederaarde loop en daai slimheid word al vroeg-vroeg, so teen 13 of 14 jaar, beoefen. Ha! Ek, ons was ook daar; daai tiener met te veel tienergeit wat soms soos een dik wolk en ander kere soos n ligte briesie oor my persoonlike lewensverhaal lê. Soos wat ek my voorbereidinkies begin maak het om na ons 40ste skoolreünie toe te gaan, het ek baie gewonder oor wat van die een of daai een geword het. Sal ek hierdie rok dra of wat sal hulle hiervan sê? Toe stry, veral ons vroumense het beslis daaraan gedink. Seker van julle ouens ook, want soos die ouderdom wysheid bymekaar gemaak het, het ek geleer dat ook die seuns van die 70er jare en vandag se oupas ook maar dun nerwe het.

Eers loop ek ‘n onbekende bekende vrou op die lughawe raak. Susan Arnold is slimmer as ek en volg my badkamer toe. Wat ‘n blye weersiens! Dan die grootste lekkerkry toe Koos na 11 uur Donderdagaand kom sê hy het Mariana se kamer opgespoor en sy nooi ons vir soetwyn. Ai daai maatjie en ek het so effe- effe deur die jaar op Skype gesels, maar daar is darem niks soos regtig aan mekaar raak en hallo sê nie.

Die skoolbesoek Vrydagoggend het soveel ander goed vorendag gebring. Eerste val ek amper bo-oor Dalene en Janet voor ek hulle herken. Dan die trane wat vlak gaan lê toe die skoollied gesing word. Die herinneringe aan wiskunde ( Meneer Dreyer) en rekeningkunde ( Meneer Markram: “Pretorius, ek tel jou aan jou boksterte op en sit jou op die hokkieveld neer”) in die tydelike geboue wat nie meer was nie. Ja die hokkieveld is nou mooi groen. In ons dae was dit vaal gruisklippers.

Die biologieklas in standerd 7 wat nou Meneer “Brand-loos” is. En dan die nuwe swembad. Ai tog, ek het vandag nog n kompleks omdat ek nie kan swem nie! Later smul ons heerlik aan eetgoedjies en drinkgoed terwyl ons deur ou jaarblaaie en wraggies tot die strafboek van daai jare blaai!

Die bustoer onder leiding van Louis Lessing is ‘n fees. Hy ken die dorp en wys ons al die goed waarop ons nou trots kan wees, maar ook die dinge wat stil seer in elkeen moet vassteek, want soos wat herinneringe soet kan wees, so kan verandering bitter wees. Ons is maar n klein groepie, maar ons gesels ‘n barshou.

Ons skrik ons poegaai vir regeringsmagte wat ons kom stuit om foto’s te neem, maar gaan dan rustig verder tot ons weer by die skool stilhou. Die stoep en eetsaal op Arebbusch is lekker kuierplekke en daar pas ons kort individuele kuiertjies in. Ek en Koos kuier te lekker tussen die klomp deur terwyl ons opgewonde wag vir die aand se bymekaarkom. Mariana en Theo se beplanning kom pragtig bymekaar. Die saal is mooi opgemaak met duidelike tekens van ‘n 40ste Windhoek Hoërskool reünie.

Ag en val my mond nie aanmekaar oop oor soveel bekende skoolmaats nie. Almal vandag grootmense, gebrei deur die lewe self. Almal deur die soet en die sout van die lewe en almal bietjie skaam, maar volwasse genoeg om vierkantig mekaar in die oë te kyk en al die onthou-jy-nog’s uit te gooi. Met n paar oud-onderwysers in die geselskap, kry ek wraggies ‘n kans om vir Meneer Oosthuizen (Speedy) te vertel hoe onregverdig hy my op die stoep uitgegooi het 40 + jaar terug! Ons lag lekker daaroor en hy maak seker dat ek weet dat as dit nie vir daai straf was nie, sou ek nie vandag die mens gewees het wat ek is nie!

Saterdagaand is die hoogtepunt. Nog nuwe ou gesigte. Ek kan nie oor Mielie kom wat van ‘n skaam outjie na ‘n reuse aantreklike man ontwikkel het, met die pragtigste vrou aan sy sy. Karel van der Bank is my grootste verrassing. As ek my oë toemaak, kan ek sy skaam seunsgeit voor my sien, maar hier op die Saterdagaand is hy ‘n Oupa vol karakter en gees met ‘n vrou aan sy sy wat duidelik gewoond is aan sy manewales.

Janet se man Basie is kostelik en ‘n gees op sy eie. Ek kan nie help om te onthou hoe stil bedees Janet altyd was nie. Vandag ‘n boervrou wat duidelik haar plek langs haar man volstaan. Ag en dan is daar Kato en Daleen en Johanna en Hester en Ina; ek gesels met almal, totdat Imogen by die deur instap. Ag, die trane kom lê weer vlak. Ons was kamermaats in die koshuis, ons was tieners saam en die lief en leed van mekaar grootmaak kom lê soos ‘n kleed oor my. Dit was lekker jare, seer jare, teer jare.

Vandag as ‘n ma van drie met ‘n sterk man aan my sy, weet ek dat die bravade en die slimgeit wat ons daai jare saam met ons gedra het dikwels net ‘n front was en ek wonder of die lewe daai fronte weggevee het en of ons vandag nog steeds met die selfde vrese in ons rondloop wat ons daai jare gehad het; of die lewe ons geleer het om dit beter te hanteer. Aan almal van julle (ook die onnies) wat my tydens die skoolreünie gehelp het om daai legkaartstukkie van my hoërskoollewe in plek te laat val, wil ek ‘n groot, groot dankie sê. Sonder dat ons dit daai jare geweet het, het ons mekaar help vorm en vandag, terug in my eie huis, kan ek met groot dankbaarheid terugkyk op my lewe wat leeg sou wees sonder julle daarin.

Ongelukkig kon ons nie by die erediens wees nie. Sou so graag vir André wou hoor, maar ‘n laaste geselsie met Francois Pretorius oppad lughawe toe, kon ook nie vervang word nie. Toe ek hom skielik in my geestesoog in sy sportklere sien staan, toe weet ek as ek tuiskom gaan ek weer ou foto’s uitkrap en elkeen van julle wat op die een of ander manier oor my pad geloop het, van vooraf waardeer.

Stories deur/oor die Lede

© WHS 1974 - 2024 | Links | Antoinette (Pretorius) Badenhorst (10A) Reünie in perspektief

Website Design and Search Engine Optimisation (SEO) by ZAWebs Designs | Web Hosting by ZAWebs Hosting