Huldeblyk aan Ben van Rhyn

Die huldeblyk wat mnr Van der Walt by Ben se troosdiens gelewer het


 

BEN VAN RHYN – HEINE SOOS HY VIR SY FAMILIE BEKEND STAAN

  • Gebore 29 Junie 1956 in Outjo, Namibië
  • Laerskool-opleiding Grootfontein
  • Hoërskool Windhoek

Gebore en getoë `n Suidwester

As hy nuwe voertuie hier aangeskaf het, was die eerste wat op die voertuig verskyn het `n logo van die Namibiese vlag. 

Al waar hy totaal afgewyk het, is dat hy `n vurige Blou Bul ondersteuner was.

Na sy hoërskool opleiding het hy verder gaan studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy `n honneursgraad in Geografie en sy onderwysdiploma verwerf het.

Tussen sy studiejare deur het hy vir Ronelle van Schalkwyk ontmoet met wie hy toe 32 jaar gelede getroud is.

Uit die huwelik is twee seuns Walter en Wikus gebore.  Walter is intussen getroud met Annelize du Plooy en die eerste kleinseun word in Februarie 2015 verwag.

Beide Walter en Wikus het hulle in Namibië gaan vestig, Walter in Windhoek waar hy as Bourekenaar praktiseer en Wikus in Mariental waar hy op die bestuur van `n groot melkplaas is.

Na hy sy studies op Stellenbosch afgehandel het, het hy en Ronelle hulle op Hartswater in die huidige Noordwes-provinsie gaan vestig waar hy aan die Hoërskool Hartswater met sy onderwys loopbaan begin het.

Ook in die onderwys het hy sy nougesetheid getoon en was op jong ouderdom reeds die adjunk-hoof van die Hoërskool Hartswater

Hy het baie sy liefde vir jongmense en die natuur getoon en het die skoliere dikwels op uitstappies in die natuur geneem.

Ongelukkig het sy stembande ernstige probleme begin gee en moet hy toe op mediese gronde die onderwysprofessie verlaat.  Hulle het drie jaar op Despatch in die Oos-Kaap gaan bly waar hulle `n besigheid op Uitenhage bedryf het.  Hier het hy hom gou onderskei as suksesvolle sakeman.

Hulle het  na Bellville verhuis waar hulle met hulle aankoms `n gevoelige skok beleef het, toe Ben moes agterkom dat die sakewêreld ook kan gepaard gaan met korrupsie.  As gevolg van die indoen deur `n potensiële vennoot het hy `n baie  groot finansiële verlies gely, sodat hy met feitlik niks weer sy en sy gesin se lewe van voor af moes begin.

Na 7 jaar in die Kaap het die Here hulle geseën met Supa Oils waar hulle weer op hulle voete kon kom en Ben sy bestuursvernuf kon wys.  Maar ook hier is Ben beproef met twee gewapende rowe.

Al hierdie onverwerkte trauma het sy tol begin eis. Trauma wat hy met sy uitnemende geaardheid baie goed weggesteek het, so goed dat ek seker niemand het die seer agter die lag raakgesien nie.

Maar ten spyte van alles het Ben steeds sy liefde vir kinders behou en kinders het aan sy lippe gehang met sy kwinkslae wat hy uitgedeel het. Soveel so dat Nicola kon sê dis darem lekker om so `n grappige oom te hê.

Ben het ook sy liefde vir die natuur behou en ek was bevoorreg op dikwels saam met hom op toere te gaan waar hy as toerleier en grapmaker opgetree het.  Hy kon jou altyd in detail vertel van al die rotsformasies, wolkformasies en grondsamestellings.

Baie grappige insidente kon ons saam beleef.  By sy onderneming het hy onder sy werknemers as die wit sangomo bekend gestaan, omdat hy alle kwale met die nodige medikasie kon vertroetel.

Met ons toer na Thailand kon hy sy skoonouers gesond kry met allerlei medikasie wat hy daar gekoop het.

`n Nee was daar nooit as daar `n avontuur-reis beplan word nie;  of dit nou Duin 7 in Namibië was, almal moes bo kom.  Daarvoor het hy gesorg.

In Thailand het hy selfs een laat aand toe ons na `n toets tussen die Springbokke en die Wallabies gekyk het, die telefoon geantwoord het, met die woorde White Sangomo from South Africa – how can I help you.

Saam met die Thailandse dames, almal die helfte van sy grootte het hy gedans terwyl ons kon skater van die lag.

By Riemvasmaak het hy ons weer laat skater toe hy die braaihout, wat `n hele opgekapte boom was, wat hy op sy skoot moes vashou, terwyl die voertuig met stampe en stote deur die ruwe oppervlakte gaan. Elke keer het hy net gekreun en gesê hierdie keer is hierdie stomp deur my ribbes.

Ons weet egter dat God nie `n fout maak nie, daarom kan ons saam met Job vandag uitroep: Die Here het gegee, die Here het geneem: Prys die naam van die Here.

Ek dank u.

© WHS 1974 - 2024 | Links | Huldeblyk aan Ben van Rhyn

Website Design and Search Engine Optimisation (SEO) by ZAWebs Designs | Web Hosting by ZAWebs Hosting