Boodskap van Klaus Linow oor Proppies Steyn

Baie dankie aan Mnr Klaus Linow vir sy epos oor sy besoek aan Mnr "Proppies" Steyn. Ons waardeer eninge terugvoering oor ons onderwysers wat so 'n belangrike rol in ons lewens gespeel het.


 

Môre-sê al die 1964- en 1974-Matrikulante, WHS-kollegas, Tannie Lettie en Oom E T,

Hiermee aan julle almal ’n kort boodskap van my kant, om soos belowe te laat weet, dat ons, ek en Hanne, ons goeie vriend, Proppies, gaan besoek het op die plaas Yakandonga, waar Proppies as Alzheimer-pasiënt opgeneem is.

Ons was vir twee dae Outjo toe (meine Heimat !) om die grafte van my ouers en broer te besoek en te versorg, soos ons af en toe probeer maak. Ons het besluit om op pad terug Whk toe, Sondag 10 Aug by Proppies aan te gaan om te sien hoe dit met ons vriend en oud-kollega daar gaan.

Ons was vyftien jaar lank WHS-kollegas, waarvan vyf jaar as opsigters in Koshuis 1, later weer kollegas by die Departement en Ministerie.

Die plaas Yakandonga lê halfpad tussen Otjiwarongo en Kalkfeld, naby die plek waar die Erundu-rivier die teerpad kruis. Dit was goed om Proppies in ’n opgeruimde bui, fisies sterk en gesond, amper soos ons hom uit vroeër jare geken het, by die postal te ontmoet.

Die ou plaashuis (drie km van die teerpad af) is vir die veranderde doel van die tehuis omskep en vergroot, en aan die ’Michelle Group’ (nie McClean nie) beskikbaar gestel vir die versorging van AH-pasiënte. Daar was tydens ons besoek 14 pasiënte by die tehuis opgeneem.

Ek het voor ons besoek vir Ds.Berrie Holtzhausen van Walvisbaai geskakel om te verneem of dit sinvol sou wees om Proppies te besoek, en hy het ons sterk aangeraai om dit tog maar te doen, aangesien dit hom sou opbeur.

Ons meen dat Proppies my herken het toe ek my ’voorgestel’ het as “Dein Freund”. Francois het my al die jare “Mein Freund” genoem, feitlik nooit op die voornaam nie.

Soos ons om die opstal se geboue gestap het, het hy die woorde “mein Freund“ ’n paar keer herhaal, terwyl hy op die grond voor hom gekyk het, vermoedelik om diep en baie jare terug te dink. ’n Mens kon sien hy wou bitter graag gesels, maar telke male moes hy maar teleurgesteld en moedeloos moed opgee. Dit was vir ons baie tragies, alhoewel ons pogings aangewend het om hom daarmee te help en op te beur.

Ons het omtrent vir ’n uur daar vertoef, voordat ons afskeid geneem het. Francois se vrou, Mit, hul dogter Annemarie en kleindogter was die dag van tevore daar om hom vir twee dae uit te neem na die Lodge daar naby op dieselfde plaas en met dieselfde naam.

Mit het te kenne gegee dat hulle vir Francois maar weer Swakop en Henties toe (waar hulle nou bly) wil neem, indien moontlik en hy nie meer gelukkig op die plaas sou wees nie. Ek hoop dat ek met hierdie treurige nuus oor Proppies se lyding vir julle ’n prentjie kon skilder van hoe tragies en feitlik hulpeloos ’n geestelik sterk man uit vergange se dae sy laaste lewensjare sal moet slyt.

Baie groete van Hanne en Klaus Linow

© WHS 1974 - 2024 | Links | Boodskap van Klaus Linow oor Proppies Steyn

Website Design and Search Engine Optimisation (SEO) by ZAWebs Designs | Web Hosting by ZAWebs Hosting