Cobus Oosthuizen 10F - Die Lelike Ding

Verskeie onlangse mini reünies, kuiergeleenthede en “Facebook” het bygedra om ons 1974 matrieks weer aan gebeurtenisse, staaltjies en verhaaltjies van 1970 (Standerd 6) tot 1974 te herinner.

Heelparty van ons het dan ook oor bogenoemde tydperk in die vakke Duits of Bybelkunde onderrig van meneer K@665r Neethling ontvang. Die bynaam het hy volgens oorlewering as gevolg van sy uitsonderlike blas vel gekry. Dan het daar nog ‘n knop so groot soos ‘n groot bloudruif korrel tussen sy ylerige grys hare gestaan. Dit was algemene kennis dat hy lief was daarvoor om gereeld ietsie te skink. Dit het daartoe bygedra dat hy oor ‘n lang tydperk ‘n spesifieke manier van praat en bypassende stap ontwikkel het. Sy bewende hande het eers die bordkryt teen die swartbord vasgepen en dan ‘n skrif voortgebring wat al sy bogenoemde karaktertrekke verder ondersteun het.

 Met die ingesteldheid van sommige leerders om gedurig op die uitkyk te wees vir ‘n geleentheid om kattekwaad aan te vang, kan mens hom seker ook nie kwalik neem om iets te wil skink nie. 

So het hy die dag na ‘n pouse eers ‘n draai by die kleedkamer gaan maak. Toe hy ‘n paar minute laat by die betrokke klas opdaag, was die klas nogal bedrywig en nie so stil en stemmig as wat dit van hulle verwag was nie.

Hy het homself op die houtverhogie voor die klas langs die lessenaar  staangemaak en streng oor sy bril geloer. Totaal onbewus van sy broek se gapende gulp, het hy ernstig en waarskuwend vir die klas gesê, “Dis ‘n lelike ding wat sy kop hier uitsteek”.

 Dit was natuurlik die laaste strooi en die gegiggel het tot ‘n volskaalse gelag oorgegaan tot verdere ontsteltenis van mnr Neethling en ook verleentheid toe hy uiteindelik besef waaroor die bohaai gaan.

Stories deur/oor die Lede

© WHS 1974 - 2024 | Links | Cobus Oosthuizen 10F - Die Lelike Ding

Website Design and Search Engine Optimisation (SEO) by ZAWebs Designs | Web Hosting by ZAWebs Hosting