Neels Coetzee - WHS

Dis 1970 en ons stap WHS in grootoog van banggeit en verwondergeit.

In daardie dae was daar geen blootstelling aan die hoërskool terwyl  jy nog op laerskool was nie. Anyway, jou paar vrinne van die laerskool  soos Eddie Scott , van As en Lappies Labuschagne, was maar van die bekendes. Die ander ouens het jy so met die tyd leer ken. Die eerste indeling was in die klasse en dit was nogal heel orrait.

Die belangriker een was die atletiekspan. Eers is die kinders wat ouer broers en susters gehad het in dieselfde span as hulle voorgangers in die WHS annale ingedeel - die nuwelinge was net aangesê waar hulle gaan wees. Ek was ingedeel by Swartkhaak en skielik het jou laerskool tjommie van dieselfde span jou opponent geword.

Van die eerste jaar of wat is daar nie veel te sê nie. In st 6 was ons nog so bietjie versigtig. Lappies het in Leutweinstrasse gebly - so blok bokant die swembad. Sy pa het by Toyota gewerk. Lappies se pa se werk het ‘n spray booth gehad en metallic verf het daardie tyd uitgekom. Ons het of ‘n BSA of Raleigh of Rudge fietse gery. Dikwiel en 3 speed met drombrieke en dan was jy net in. So ‘n fiets het so R27.00 gekos. Chopper fietse het ook hulle opwagting gemaak en dan is die handvatsels op jou dikwiel fiets met sy doringproof tyres geskroef en jy het ‘n fiets van formaat gehad. Ek en Lappies het ons fietse metallic laat spray en was heel windgat daaroor.

Hoërskool het nuwe vryhede gebring soos trollie stoot vir sakgeld by die AKH oor naweke en ‘n 5c of 10c tip was baie. As jy gelukkig was, het jy so R4 - R5 gemaak op ‘n Vrydagmiddag en Saterdagoggend. Die einde van die maand was altyd goed as die boere ingekom het om voorraad te koop. Dan was daar ook tjoklates pak by die Springer-fabriek  en by die Coke-fabriek se venster gaan staan en kyk hoe die bottels gevul is, wat altyd vir so ‘n botteltjie Coke gesorg het. 

Skool was maar aangehou vir die sport en die akademie het net voorrang geniet as die swartboekie amper vol was of jy onverwags so ’n paar van die bestes op die agterstewe gekry het. Nie dat ons te sleg gedoen het nie maar uiteraard was daar veel beter dinge om te doen as leer.

Kadetorkes het veroorsaak dat die bure nie so lief was vir jou met die geoefen om die beuel te blaas nie en ek is seker hulle het ook nie daarvan gehou om, toe jy kon blaas, hulle soggens met die morning signal wakker gemaak het nie. Gelukkig het die nuutjie ook afgeneem. St 6 en WHS wen die kadetorkeskompetisie. Ons is af Lenz toe vir die nasionale kampioenskap of wat ook al dit genoem is.

Ek was ‘n jaar jonger as die ander manne en die matrieks was GROOOOT en hulle het omtrent almal gerook. Op die trein na Jhb is ek en al die ander st 6’e  die eerste aand blootgestel aan rook. “Rook mannetjies dat julle stemme  kan breek.“ Ek kan nie veel van die trip onthou nie behalwe dat ek vir ‘n dag of twee nie kos wou sien nie en goed naar was. Dit was frikken koud op Lenz.

Die skool het op ‘n stadium sulke asbes klaskammers gehad wat onderkant die gimnasium was en so tussen die rugbyveld en die hokkieveld.

Lappies en die uwe het een Saterdag dood verveeld die middag skool toe gery want ons het nie eintlik iets beters gehad om te doen nie. By die huis wou ons ook nie wees nie want dit het net beteken dat ons moet bossies uittrek of kar was of so iets doen .

Dit was in die winter want normaalweg is daar in die somer by die swembad uitgehang. Ons het windbukse gehad of pellets soos wat algemeen bekend gestaan het.

Soos goeie skuts nou maar is, het ons teiken geskiet en gesien dat die patroontjie ‘n netjiese gaatjie in die ruit van die klaskamer gemaak het. Die Maandag is dit nog donker soos dit nou ma is in die winter teen 7h15 en in die registerklas hoor ons die gaatjie fluit te oulik as die wind waai. Dit was die dae voor Prestik en die onderwyser het ‘n stuk Cellotape oor die gat geplak.

Die volgende Saterdag is daar weer per ongeluk so paar gaatjies in die ruite geskiet - nie net van die registerklaskamer nie maar so ‘n paar ander ook veral die waarin die betrokke standerdgroep klas gehad het.  Nodeloos om te sê dat daar met groot pret geluister is as die wind waai en die ruite fluit tot ontsteltenis van die bepaalde onderwyser. Die Cellotape is gereeld afgetrek.

‘n Ander voorval was Duits wat gegee was deur Kaffer Neethling se vrou. Sy het die gewoonte gehad dat as daar in die klas geëet word om die kos af te vat en dit dan self  te eet veral as dit nou so iets soos biltong, droëwors of lekkers was. Lappies het die betrokke dag so lekker stuk koedoebiltong gehad en dit is afgeneem. Vir ‘n honger st 6 seun is dit fataal en is daar wraak gesweer.

Vanweë sy uitstekende  werkrekord by Springer is daar ‘n box vars sjokolade bekom met ‘n verskeidenheid van likeur vulsels in. Die bodems is toe netjies verwyder en Brooklax wat gesmelt is, is agter op die individuele sjokolades gegiet. Die gedokterdes en ongedokterdes is toe herverpak. Dit het net soos die oorspronklikes gelyk.  Maandag in die Duitse klas het onse vriend weer eens lekker gesmul aan sjokolade wat nie gedokter was nie. Die box is soos normaalweg gekonfiskeer.  Daar was vir so paar dae die res van die week nie Duits aangebied nie.

Ons kan seker maar net vermoed dat die likeur die blaam gekry het. Dit was nogal opmerklik dat daar nie weer in die betrokke klas kos afgeneem was nie;veral nie van Lappies af nie.

Ek weet nie wat van hom geword het nie want die Desember van st 6 is hulle weg uit Windhoek uit.

In die wetenskapklas was daar ‘n Van der Graaff-ontwikkelaar. Die ding bou mos lekker statiese elektrisiteit op. Dit is gereeld aangeskakel as mnr Linow uit die klas was. Sou hy dan daar verby loop en te naby kom, het die ding hom geskok. Hy het later altyd ver om die Van der Graaff geloop. Ons het ook almal ingeskryf op ‘n tydskrif bekend as Archimedes wat party keer heel interessante formules in gehad het. Ons het die formule vir  touch powder gekry. Ek kan nie meer onthou wat dit is nie maar dit was so iets soos swaelsuur en jodium . DIt is dan tydens die eksperimente wat ons moes doen so op die kantlyn aangemaak. Die vloeistof het kristalle gevorm wanneer dit droog geword het. Die poeier maak dan ‘n klap geluid as dit gegooi word of as daar wrywing plaasvind  Ek sien die kinders koop dit vandag nog en gooi dit op die grond . Dit is seker maar net ‘n meer stabiele weergawe van wat ons gemaak het. Die vloeistof en/of poeier word dan op jou slagoffer se tandeborsel gesit of op die toiletsitplekke in die kleedkamers of op ‘n deurhandvatsel.

Mnr Linow het ons gevang met ons mengsel en het dit uitgegooi op die grond voor die wetenskaplaboratorium. Hy het nie geweet wat dit is nie. Ek en Diederik Opperman het net gesê dat ons so bietjie geëksperimenteer het uit die Archimedes.  Hy het seker ook nie verwag dat Diederik so iets onverantwoordeliks sal doen nie. Pouse het aangebreek en ons is almal uit die klas uit. Mnr Linow het na ons uit die klas gekom.

Teen daardie tyd het die mengsel reeds goed droog geword en hy het daarop getrap met die aftrapslag van die stoep af. Die skoot wat afgegaan het, was nogal oorverdowend en het hy gevries in sy spore. Vir een oomblik het hy seker nie geweet of hy lewendig of wat was nie. Hy het doodstil gevries gestaan.

Mnr Linow  het ook een keer te veel fosfor in ‘n eksperiment op water gegooi. Die stukkie fosfor het heen en weer gehardloop al brandend op die water . Die volgende oomblik was daar ‘n moerse knal en die glasbak en fosfor het ontplof. Linow se gesig was swart en die Duitse taalgebruik was nie in die woordeboek vervat nie. Die klas was doodstil en ons het almal heel grootoog die ding aanskou - spraakloos van skok en verbasing.

In 1973 was ek koshuis toe.

Boel Dreyer het ‘n hond gehad met dieselfde attitude as sy baas. Die hond het altyd so laaste in die studiesaal ingekom en dan jou proviand in jou tas kom uitsnuffel. Mnr Gous, later skoolhoof, was meestal aan diens met middagstudie.

 Ons het van dieselfde touch powder op die studiesaal se trappies gestrooi. Die brak het die betrokke dag weer heel verwaand die trap opgekom met die vooruitsig van die lekkernye waarop hy beslag gaan lê.

Ek meen die brak se baas was mos die baas van die plaas . Kop omhoog en met die houding van hier is ek die baas brak kom die hond toe soos gewoonlik aangedraf. Hy spring teen die eerste trap, reg op die konkoksie wat vir hom uitgegooi en gestel was. Die knal was nou nie so hard soos by Linow se klas nie; eintlik was dit heel besadig. Maar die hond se  agterlyf het so geswik van skok. Sy houding het met 100% in ‘n breukdeel van ‘n sekonde geval.  Hy het vinniger as blits met flappende ore en ingetrekte stert die die hasepad gekies -  vermoedelik na die gedeelte waar mnr Dreyer gebly het.

Ek kan my nie herinner dat die hond weer ons kos kom gaps het in die studiesaal nie. Die meneer het ook vir ‘n hele ruk die studiesaal vermy en sy baas van die plaas brak attitude het ook heelwat verminder vir ‘n ruk. Ek is die 3de kwartaal uit die koshuis uit nadat my ouers van oorsee teruggekom het.

Ek kan nie so mooi onthou nie maar in 1973 of 1974 was daar ‘n toneelopvoering . Lukas, wie se van ek nie kan onthou nie, het die rol van die vampier gespeel. Dit was nog in die ou saal opgevoer so ek aanvaar dit was in 1973. Die toneel was aangrypend en op ‘n stadium het Lukas met sy mantel in die gehoor ingespring. ‘n Hele paar van die meisies se senuwees het dit nie gehou nie. Na die toneelopvoering moes die koshuismeisies berg op met die trappe terug koshuis toe. Ek en nog so twee van die ouens, ek sal liewer nie hulle name noem nie, het so driekwart teen die trappe op gaan wegkruip in die bosse. Die dames en onderwysers wat hulle vergesel het, het in die donker teen die trappe opgekom.  Ons het uitgespring met onaardse geluide en wapperende baadjies .....

Ja wel, die gevolg was dat die hele spul toe met karre opgelaai is en van die skool terug na die koshuis gery moes word. Ter nabetragting is dit nogal ‘n wonderwerk dat daar nie arms en bene gebreek was met die snelle terugtog na die skool nie. Ek weet net die gille en geskreeu was nogal heel oorverdowend en die afgaan was aansienlik minder georden as die opgaan. Die trappe is mos maar smal.

Tommy Collard was lief vir slange en ek en hy het heelwat ure saam in die museum deurgebring. Ben Horn was op skool reeds groter as die meeste van ons. Ondanks sy grootte was hy vrekbang vir slange en sulke goed gewees. Op ‘n dag het Tommy ‘n onskadelike bruin huisslang gehad.

Tydens die langpouse het Tommy die slang vir die ouens gewys  en  onverwags gemaak of hy die slang na  Ben gooi. Ben het begin weghardloop al met die gang af. Tommy was agterna. Ek kan nie onthou wie se klas dit was nie, maar dit was die klas langs die trappe waar die ou snoepie was.

Die deur was toe en Ben het letterlik en figuurlik die deur uit sy skarniere gehardloop in die klas in om van die slang weg te kom. Daar het nie veel van die insident gekom nie, maar ek het daardie dag besef hoe geweldig sterk Ben is al het hy so sagte hart gehad en wat vrees aan ‘n mens kan doen. Tommy en Ben is so ver ek weet vandag nog vriende.

Diederik Opperman en ek was groot vriende. Die skrywer DJ Opperman was sy oom en hulle het dieselfde name gedra.

Ons  het aan die westekant van die spoorlyn gebly wat primêr Jan Mohr area was. Ek en hy het daagliks met die fiets skool toe gery en terug. In die middae het ek hokkie en hy rugby gespeel. Die tyd op die fietse en saam studeer het ons groot vriende gemaak. Diederik was begaafd in vele opsigte en musiek wat vir ons altwee ‘n passie was, het baie tyd in beslag geneem. Ons het ook saam deelgeneem aan redenaarskompetisies en die handelsvasvra. In 1973 en 1974 ons die handelsvasvra in die ou SWA gewen. Ek en hy het ‘n kompetisie gehad met Skim, die hoof van Jan Mohr. Die uitdaging was om voor Skim by die huis te wees. Hy en sy drie dogters het van Jan Mohr af gery met die kar. My ouers het langs Skim gebly en ek en Diederik het elke middag gejaag dat dit klap om eerste by die huis te wees. Albei my ouers het gewerk dus was dit eers bietjie kuier by my huis voor hy na sy huis toe gegaan het. Skim het net dogters gehad en hy was so streng as kan kom. Ons twee was albei so bietjie been af op Tiekie, die dogter wat in dieselfde standerd as ons was. Sy het pragtige hare gehad wat langer as haar rok se soom was. Dis nou ‘n mini rok. Haar hare het tot so in die waai van haar knieë gehang. Diederik het nooit die moed gehad om haar uit te vra nie. Aan die einde van die dag was dit maar ook net bewondering op ‘n afstand. Ek en Skim het heelwat gekuier maar is dit nou nie hier ter sprake nie.

Diederik was maar ‘n redelike skaam ou wat meisies aanbetref en op die garage parties moes ons hom aanpor om te dans.  Op daardie stadium in WHS was daar mos so stuk niemandsland tussen die meisies en seuns se speelgrond .  Dit was gevolglik makliker om met meisies in ander skool uit te gaan as dié in WHS. Meestal is daar maar so in die bondel vriende gewees en was daar nie ernstige verhoudings nie. 

Daar was elke Maandag saalopening gehou in die jare van die totale aanslag.

Paraat moes die seuns en meisies dril en die kadetorkes moes oefen en speel. Ons was die beste in Suidwes vir baie jare - wel ek weet elke jaar vanaf st 6 tot matriek uit het ons die kadetorkes-kompetisie gewen.

Tydens saalopening het daar dan ook hierdie groot vlaghysing seremonie plaasgevind waar daar dan heel paraat op die note van Die Stem die vlag gehys  moes word. Die trompetblasers het so eenkant by die onderwysers gestaan  en na die kinders se rigting gespeel. Ek dink daar was nog so periode soos jeugweerbaarheid ook gewees. Dit was heel gerieflik om ‘n knoop in die tou te maak en dan kon die vlag nie tot bo gehys word nie. Die arme vlaghysers  moes dan maar ruk en pluk om dit reg te kry of die vlag aftrek en dan weer van voor af begin. Daar was een nag so besoekie gebring aan die skool en daar is toe ‘n paar voorwerpe aan die vlagpaal opgehys soos ‘n goeie ou pie pot, ’n bra en nog so een of twee ander ongure voorwerpe.

 Die Maandag was daar duidelik ‘n groot ongelukkigheid met die vlaghysing seremonie want die ongure items moes eers verwyder word ten aanskoue van die hele skool. Die Stem was die dag baie moeilik om te speel want ons kon die onderwysers se op- en aanmerkings goed hoor en die kinders se gesigte sien.

Stories deur/oor die Lede

© WHS 1974 - 2024 | Links | Neels Coetzee - WHS

Website Design and Search Engine Optimisation (SEO) by ZAWebs Designs | Web Hosting by ZAWebs Hosting