Sam van den Berg 10F - Stokkiesdraai

Ek kan nie regtig onthou of dit in st 9 of 10 was nie, maar op ‘n dag besluit ek en Poon (Koos Nel) dat ons ‘n blaaskansie van skool nodig het.

Dit word fyn beplan sodat ons daarna lekker kan brag tussen die klomp pelle tydens pouse die volgende dag. Die gewoonte was dat die klomp rokers (hulle sal weet wie hulle was) gedurende pouses bymekaar gekom het daar tussen die laboratoriums. Daar is elke dag met smaak vertel van wat die vorige dag gedoen is en natuurlik ook die naweek se gebeure.

Die stories het gewissel van kattekwaad en natuurlik outings met ons ouers se karre (Dan van der Poel, ek sal maar nie te veel hierop uitwei nie). Wat gedoen is as ons gebank het, of dit nou ‘n periode of ‘n dag was, was natuurlik lekker stories.

Ervarings tydens outings na een van die hoofde se kantore is ook altyd met smaak oorvertel – die hoeveelheid houe ens.

In elk geval, om terug te kom na my en Poon se plan vir die dag.

Hy het elke oggend met ‘n geleentheid skool toe gegaan maar op hierdie stadium was sy ouer broer Henk se kar (‘n Mini) by hulle huis geparkeer. Poon het toe sy geleentheid skool toe al die vorige dag gekanselleer. Ek sal kamma sonder petrol met my motorfiets by hulle huis aankom om ook sommer met die (reeds gekanselleerde) geleentheid skool toe te gaan.

Toe die geleentheid nou nie opdaag nie begin Poon sy ma oploop jaag met wat met gaan gebeur as ons laat is so ons sal noodgedwonge die Mini moes gebruik om by die skool te kom. Baie teësinnig oorhandig sy toe die sleutels en ek en Poon is daar weg.

In ons rugsakke was civvie klere en by die Rooibrug ruil ons die skoolklere om vir civvies. Daai tyd het die polisie en spietkops mos maklik kinders wat gedurende skooltyd in die strate rondhang skool toe gevat (of so het ons geglo). Ons besluit toe om te gaan vliegtuie kyk by JG Strydom-lughawe. Daar aangekom, was dit maar vervelig. (Die Boeing het mos net op Sondae gevlieg.) So na ‘n stewige brekfis in die restaurant is ons daar weg en sommer reg deur Windhoek na die Daan Viljoen-wildtuin toe. By Daan Viljoen het daar ook nie veel meer aangegaan nie. Toe is ons maar terug Windhoek toe en was dit ook sommer tyd om huis toe te gaan.

Toe ons by Poon se huis aankom, is sy ma (‘n baie goeie en dierbare tannie) sigbaar moeilik en wil weet waar ons was. Ek het my maar vinnig uit die voete gemaak maar toe ek by die huis stop, is my pa ook dadelik by.

My pa het by die Onderwysdepartement gewerk en het baie met Naas du Preez geskakel. Dié in my klas sal onthou dat hy net een klas gegee het en dat dit biologie vir 10F was. In elk geval, toe hy en my pa toevallig die dag met mekaar gepraat het net na die biologieperiode, vra hy toe of Sam dan siek is. Natuurlik verseker my pa hom toe dat ek by die skool behoort te wees.

Busted!!!

Ek het toe vir hierdie trippie sommer ‘n dubbel dosis gekry – by my pa met sy seekoeisambok en die volgende dag by Naas. Gelukkig was ek vir laasgenoemde voorbereid gewees met so vier onderbroeke.

Tydens die re-unie het die strafboek die episode bevestig.

 

Stories deur/oor die Lede

© WHS 1974 - 2024 | Links | Sam van den Berg 10F - Stokkiesdraai

Website Design and Search Engine Optimisation (SEO) by ZAWebs Designs | Web Hosting by ZAWebs Hosting